Kom snuffel saam

Buster is terug, en dié keer het hy 'n spesiale vierpoot maatjie bygekry!

Buster die Brak is die hoofkarakter in 'n wonderlike wêreld waar elke kind tel. Buster is die braafste boetie wat vroeg in sy lewe reeds geleer het dat ons almal se gawes en talente SAAM die vyand kan verslaan!

Buster maak moeilikheid vir die duiwel, want hy ken die grootste waarheid en kies elke dag die LEWE! Hy weet hóé, want sy beste vriend, die Heilige Gees, het hom so mooi geleer. En nou moet hy sy nuwe sussie, Bella, ook al die wonderlike waarhede en avonture van God se plan begin wys. Hy wys haar hoe om nee te sê vir storms en vrees. Hy wys haar ook dat die Heilige Gees God se liggie is wat ALTYD in ons skyn en daarom is selfs die donker bang vir my en jou!

BUSTER met die sterk ruggraat, GROOT hart en kieliewange sal jou betower met sy briljante brein vol voorloper planne. Kom luister saam, hy is die beste honde vriend in die hele wye wêreld!
Buster en sy mamma het oor die afgelope jaar baie by die kinderhuis gaan kuier, opsoek na 'n maatjie vir Buster. Buster wou nog altyd 'n sussie of boetie gehad het en sy droom word uiteindelik waar.

Ontmoet vir Bella, die marmot dogtertjie! Sy is van die kinderhuis in Verlorenvlei. Bella is 'n maatjie, so bietjie soos ek en jy, maar met haar ronde brilletjies en lang ore staan sy sommer maklik eenkant en op sy. Die ander kinders dink sy is vreemd. Hulle spot haar graag en lag vir haar wit wollerige maag. Bella voel ook sy het geen talente nie en dat die uitdaging van haar nuwe lewe te groot is. Bella ontblom soos sy ‘n nuwe wêreld vir kinders om haar wys en hulle ook leer van God se roep op hulle lewens! Haar naam beteken nie verniet "Godly Example" nie. Haar pop, Makierie, is altyd by haar en sy is mal oor diere en die natuur.

Sy is lewenslustig en straal onskuld soos sy ontblom in 'n dogtertjie wat 'n nuwe wêreld vir kinders om haar oopmaak en hulle ook leer van God se roep op hulle lewens! Want soos die kleure van die reënboog skyn die talente van kinders regoor die land en Buster leer gou, met sy nuwe sussie, is twee baie beter as een.
Gesing deur Chante Geary

Tannie Terapeut stel Buster en Bella aan die terapiekamer en sy verrassings bekend. Dis ‘n wêreld vol geleenthede, pret en uitdagings! Sy gee ook belangrike leidrade op hulle avontuur. Hulle moet, soos elke kind, ontdek wat God ingedagte gehad het toe Hy my en JOU gemaak het! Want God het ons aanmekaar geweef met ‘n SPESIFIEKE PLAN! Tannie Terapeut het altyd ‘n wonderlike antwoord vir elke vraag, en avontuur vir die verveeldheid wat soms knaag. Die skoenlappers is haar beste maats, veral as kinderdrome so op hulle vlerke weerkaats. Sy hou van spring, sing en vreugde bring!

Hierdie tannie leer kinders dat God ons almal op verskillende maniere slim gemaak het. Sy gee ook ‘n naam vir elkeen van die verskillende soorte slim-wees. Haar reënboogmaker, SLIMSTIEKS, is die sleutel tot die uitdagings wat Buster en Bella moet oplos. Sy leer ook elke kind dat ons meer as OORWINNAARS in Jesus is, en DAAROM kies ons elke dag die LEWE! Soos sy en kinderss regoor die wêreld sing, word God se Woord LEWENDIG. Sy is altyd ‘n briesie vars wysheid. Sy is pret. Sy is ‘n wonderlike maatjie. Sy is my en jou TANNIE TERAPEUT.
Buster is terug, en dié keer het hy ‘n spesiale vierpoot maatjie bygekry! Ontmoet hierdie jaar vir Bella, Buster se aangenome MARMOT sussie, soos hulle die land met splinternuwe liedjies, vars geblafde stories en boogie voetspoortjies toer!

Die vertoning word aangebied deur nog ‘n nuwe vindingryke en energieke karakter, Tannie Terapeut, wat saam Buster & Bella wonderlike ontdekkings maak.

Soos met Buster die Brak, sing die land weer saam Buster & Bella ‘n klomp nuwe deuntjies uit die pen van begaafde liedjieskrywer, JOHAN VORSTER. Bella se stem word gesing deur LIANIE MAY en Buster deur radio persoonlikheid en akteur HENDRI MYBURGH (Die Groot Ontbyt op kykNET/Groot FM 90.5, As Jy Sing, kykNET Revue 2016). Om hierdie kragtige boodskap aan die wêreld te gee, het ons hande gevat met die WOW MUSIC DISTRIBUTION span om ons produkte op elke rak te kry.

Sedert sy vrystelling in April 2014, het “Buster die Brak: Almal het ‘n Gawe” reeds diep spore in die harte van kinders regoor Suid-Afrika getrap en wen ook in 2015 die GHOEMA Toekenning vir beste kinder CD/DVD. Hierdie Afrikaanse, Christelik-gebasseerde kinderproduk bring boodskappe van God se Woord, en leer hulle soos in Deut 30:15-19 om elke dag LEWE te kies. Hierdie boodskap word ook deurgetrek na die tweede CD en DVD: Buster & Bella.

Met Spelterapeut, Arette Burger, as konsep ontwikkelaar en eienaar is elke aspek van Buster se storie goed deurdink. Kinders word bemoedig om hulle identiteit in Christus en holisitiese prentjie van hulle lewens in God se hand: liggaam, siel en gees, te verstaan en ontdek! Die nuwe DUBBEL CD bevat ook 13 TERAPEUTIESE STORIES voor elke nuut geskrewe liedjie, ‘n vertaling van Bethel Kids’ se “This is Amazing Grace” en ‘n Buster Medley met ses van die ou bekende Buster liedjies.

Op hulle nuwe avontuur leer Buster & Bella die Heilige Gees as ‘n beste vriend en helper ken, wat hulle lei om hulle unieke talente, soos geillustreer deur Howard Gardner se 8 intelligensie tipes, te ontdek. Net soos die kleure van die reënboog skyn dié talente van kinders soos ‘n wonderlike belofte en plan oor hulle lewens! Buster & Bella ontdek so dat elke kind op ‘n unieke manier “slim” is. Hulle leer ook dat God ons nooit los nie en as ons Sy hand vat, dit ‘n onbreekbare band vorm.

In ‘n wêreld waarin dit dikwels gaan oor die sterkste, slimste en vinnigste sal elke kind kan identifiseer dat almal uniek en verskillende gawes en talente het. Hierdie boodskap kan konflik hantering verbeter, emosionele intelligensie verhoog en kinders help om die diversiteit van mense te akkomodeer, respekteer en komplimenteer. Kinders gaan met dié Buster vertoning ‘n pragtige boodskap geniet wat goedheid, waarheid en eenvoud versinnebeeld.

Jy kan nie jou kind sonder hierdie waardevolle boodskap die wêreld instuur nie!
Buster die Brak is terug, en die keer ontmoet hy vir BELLA, sy aangenome MARMOT sussie. Hulle leer vinnig twee is beter as een! In Tannie Terapeut se speelkamer begin 'n nuwe avontuur en leer kinders hoe GOD ELKEEN op 'n ander manier SLIM gemaak het.

Hulle ontdek ook vir SLIMSTIEKS (die talente stokkie), 'n pratende storieboek en allerhande nuwe maatjies. MAAR, die nare en wrede Koning DOMSTIEKS het 'n plan. Hy wil kinders se talente steel en hulle boonop laat glo hulle is DOM!

Sal SLIMSTIEKS die geveg teen DOMSTIEKS kan wen?

Kom leer belangrike lewenslesse, vlieg saam in die Buster Tuig en ontdek die Heilige Gees as jou Helper, Beste Vriend en die Liggie wat altyd in jou woon! Regdeur kan jy saamsing en -dans, terwyl kinders leer hoe om elke dag LEWE te kies. Dit maak sin, want KINDERS IS ELKEEN so ANDERS slim!

So, toe toe, gaan snuffel in ons aanlynwinkel en koop sommer vandag nog ons nuwe DVD.

Wie is Ons

Ontmoet Buster en sy Familie

Buster

Stem: Hendri Myburgh

Bella

Stem: Lianie May

Mamma

San-Marié Nel

Tannie Terapeut

Stem: Chante Geary

Wie blaf agter die skerms

Lees meer oor die Buster & Bella span

Arette Burger

SPELTERAPEUT, SKRYWER & EIENAAR VAN BUSTER & BELLA

Arette Burger is ‘n spelterapeut en het haar Meestersgraad in die holistiese ontwikkeling van kinders voltooi. Na sy meer as 3000 kinders liggaam, siel en gees ge-evalueer het en nie meer kon byhou met die toenemende behoefte hierna nie; het sy besluit om haar boodskappe in liedjies en stories vas te vang en sodoende vir die wêreld te gee. Arette het self gesien hoe haar benadering nuwe rigting en lewe aan kinders en hul ouers gee.

Om ‘n assessering te doen met die oog op die identifisering van sterkpunte, talente en wat immers God se plan van die begin af was en steeds is, is nie altyd maklik nie. Arette het vinnig tot die besef gekom dat daar min terapeute en mense is wat hiervoor toegerus is. Gedurende Arette se holistiese evaluering van kinders, was die genade gawes net een van die komponente wat sy identifiseer het. Dit verklaar en verklap net so baie van wie en wat ‘n kind is. Soveel van die kinders in haar praktyk se manier van dink en hulle gedrag het begin sinmaak en sy het begin sien hoe elkeen anders gemotiveer word. Soos wat sy hierdie genade gawes en alles wat daarmee saamgaan in die terugvoer met die ouers begin deel het, was ouerbegeleiding meer ‘n “celebration of gifts” as ‘n terapie-sessie. Genade gawes is ‘n baie groot deel van ‘n waarheid en groter plan wat God met elke kind het. Dit brand in ons om dit te leef en om die mense rondom ons met hierdie gawes te dien en dit het gebrand in Arette om dit vir die wêreld te gee in die vorm van ‘n vrolike, opvoedkundige kwaliteit DVD en CD:

“Die behoefte was enorm en ek het geglo dat ons baie meer kinders hierdeur kan bereik, as individuele evaluasie. Ek glo met my hele hart dat hierdie gawes ‘n prominente deel is van ons ingebore identiteit en outoriteit en dat dit hierdie gawes is wat vir ons lewe gee. Dit sal ook vir elke kind ‘n pad in die toekoms maak”. - Arette Burger -

Buster en Bella sluit aan by “Almal het ‘n gawe” deur ‘n volgende stap in kinders se selfontdekking te neem. Die holistiese evaluering word uitendelik ‘n reeks CDs en DVDs, wat elkeen ‘n sekere aspek van kinders se holistiese ontwikkeling en identiteitsvorming vasvang. Dit is waarom ons hierdie kinderproduk vir die wêreld wil gee. Buster & Bella: lof, vreugde en lewensblyheid oor dit wat God in elkeen van ons se Gees geskryf het. Nie net is dit ‘n MOET vir jou kind nie, maar gaan jy ontdek hoe jou kinders en lewensmaat dink, optree, wat hulle motiveer en waarom hulle sekere voorkeure het. Dit sal jou outomaties sensitief maak vir wie en wat mense rondom jou is, doen en kan konflik verminder. Mens begin verstaan waarom sekere van jou aksies, sekere reaksies tot gevolg het en waarom jy ook bedreig voel deur sekere mense. Nuwe tema’s as deel van haar evalueringskomponente sal voortdurend in opvolg DVDs, liedjies en stories as deel van die Buster versameling volg. Elkeen om aan te sluit by die boodskap van lewe wat ONOORWINLIK is.

Hendri Myburgh

AKTEUR, OMROEPER, SANGER & SEREMONIEMEESTER

Gebore en getoë in Centurion, het die kultuur-gogga Hendri alreeds by geboorte gebyt toe hy sy stem dik gemaak het met sy eerste skree. Gevolglik het hy sy passie in die vorm van drama en musiek uitgeleef en sit hy dié passie steeds op ‘n daaglikse basis voort. Hy voltooi sy B.Tech graad in Drama en Film aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie met lof, is tans besig met sy Meestersgraad en dit is hier waar hy sy radiotalent begin slyp. Hy skop sy radioloopbaan in 2012 af en raak ook aktief betrokke in die vermaaklikheidsbedryf. Verskeie projekte volg o.a. As jy Sing, Liefling: die Musical, Afrikaans is Groot en op die kassie: kykNET se Pandjieswinkelstories en gasaanbieder by verskeie geleenthede vir BRAVO! In 2014 en 2015 bereik sy radioloopbaan ‘n hoogtepunt, waanneer hy genomineer word vir verkseie MTN Radio Awards toekennings, insluitend: Beste aandprogram, Beste musiekprogram en Beste verkeersverslaggewer waar hy ook benoem word vir die Beste aandprogram. Ander toekennings sluit ‘n Ghoema toekenning in vir sy betrokkenheid as stemkunstenaar en persoonlikheid van Buster die Brak.

Hendri is steeds oortuig van die dinamiese verskil wat hy deur middel van die radio-en mediawese in iemand se lewe kan maak. Sy radioloopbaan neem hom tot ‘n uitgebreide platform in die media-en-uitsaaiwese en dien hy tans as omroeper en TV aanbieder op GROOTfm 90.5 & kykNET se GROOTontbyt, waar hy hoofsaaklik die dinamiese rol as verkeersverslaggewer en Sosiale Media korrespondent inneem. Passievol, lewenslustig en dus sien dié energieke individu kans vir GROOT uitdagings!

Hendri leef volgens Walt Disney se woorde: "If you can dream it, you can do it."

San-Marié Nel

BUSTER VENNOOT, AKTRISE EN ASPIRERENDE SIELKUNDIGE

San-Marié het haar Drama Graad aan die Universiteit van Pretoria in 2009 voltooi, waarna sy ook haar Hoër Onderwys Diploma verwerf. Met ervaring in alle areas van die vermaaklikheids industrie, kap sy haar pad oop na haar drome as vryskut aktrise en fokus ook op skryfwerk, kreatiewe konsep-ontwikkeling en produksie werk op musiek video’s, advertensies en films. As aktrise skop sy haar loopbaan af in opvoedkundige kinderteater stukke wat deur die hele Gauteng toer. Sy maak ook haar verskyning in televisie sepies 7de Laan, Generations en verhoog produksies soos Macbeth, Roald Dahl se The Witches en Drie Susters van Reza de Wet. Haar gunsteling bly die twee-karakter verhoog drama "Skemer" wat sy self geskryf en vertolk het saam gewilde sepie aktrise, Elsje Slabbert (Villa Rosa en Getroud met Rugby). Haar filmloopbaan sluit haar vertolking van Lize, die vroulike hoofrol in “Getroud met rugby – Die onvertelde storie”, asook die karakter Skaai in die fllm treffer “As jy sing” in.

Sy is dan ook Buster se mamma in “Buster die Brak” en toer in 2016 en 2017 saam Buster in hulle opwindende, opvoedkundige en energieke verhoogstukke. Dit bly ‘n voorreg vir haar om kinders met die waarheid en boodksap van God se plan oor elkeen se lewe, aan te raak.

Sy is tans besig om haar Honeurs in Sielkunde by die Universiteit van Pretoria te voltooi, waarna ‘n Meestersgraad vir haar voorlê. Gelyktydig span sy en Arette Burger ook kragte saam in die skryf, ontwikkeling en maak van opvolg produkte onder die Buster naam.

Lianie May

SANGERES

Lianie May het die land in 2008 bekoor met haar weghol treffer-album ‘Vergeet my nie’. Van daar het die boeremeisie van Oranjeville in die Vrystaat diep in die Suid-Afrikaanse publiek se harte ingekruip. Met vele albums, multi-toekennings en ‘n film agter die blad, is Lianie May nie net ‘n huishoudelike naam nie- maar hier om te bly!

Die boeremeisie, gebore op 2 Augustus 1976 in Sasolburg is tans woonagtig in Pretoria. Sy is in 2006 raakgesien en geteken deur die talentvolle musikale genies, Sean Else en Johan Vorster. Van daar het Lianie se harde werk, determinasie en nederige persoonlikheid haar van krag tot krag laat gaan, en is sy vandag een van die land se top vroulike kunstenaars. Dis nie net Lianie se unieke stem wat haar laat uitstaan nie, maar sy het ook met gemak haarself agter die pen en skryfproses van treffers bewys.

Lianie se persoonlikheid, op-en-van-die-verhoog-af, maak haar een van ons land se lieflinge. Haar passie vir sang en mense skemer duidelik deur in haar vermoë om elke mens spesiaal te laat voel. Sy verdien haar superster titel met glorie. Tans sing sy saam met Buster as die stem van Bella en bring pragtige boodskappe van God se plan met kinders lewens.

Cariké Nel

MODEONTWERPER

Carike is ‘n Suid-Afrikaanse mode-ontewerper, met ‘n passie vir unieke en kreatiewe ontwerpe. Sy is ook die kreatiewe skepper agter die Buster & Bella kostuums wat gehore opnuut betower. Dit sluit die transformasie rokke van Bella en Tannie Terapeut tydens vertonings in - iets wat julle nie kan mis nie!

Cariké het in 2013 haar graad in mode-ontwerp voltooi deur LISOF. Sedertdien deel sy graag haar talent met die publiek deur haar ontwerpe wat op verskeie musiek videos, teaterproduksies, films en aan die lywe van vele Suid-Afrikaanse kunstenaars op rooi tapyt geleenthede te sien is. Kunstenaars word graag gesien in 'n unieke Cariké Nel skepping. Haar ontwerpe sluit in dié vir Riana Nel tydens Afrikaans is Groot in 2015, sowel as die goue rok in haar musiek video Tweede Kans; Lianie May se uitrustings in die musiekvideo Naweeklyfie; en Leah se blou prinsesrok in die musiekvideo Volmaan. Sangsensasies Corlea, Elizma Theron en Cordelia; asook geliefde aktrise Donnalee Roberts is van die ander kunstenaars saam met wie Cariké al gewerk het. Een van die uitstaan oomblikke in Cariké se loopbaan is die sprokie-balrokke wat sy vir Charlize Berg ontwerp het, tydens haar optrede as die prinses in die teater produksie Doringrosie (2017). Cariké werk veral baie nou saam met die kunstenaar Leah om meeste van haar uitrustings te ontwerp vir die groot verhoog en rooi tapyt geleenthede.

Cariké het ‘n liefde vir mense en dit is vir haar ‘n voorreg om saam met vrouens te kan werk om sodoende hulle droomrokke te ontwerp.

Haar studio is tans in die Silver Lakes area (Pretoria Oos) geleë. Sy maak voltyds couture rokke vir kliënte en spesialiseer in trourokke, matriekafskeidrokke, blommemeisie en ma van die bruid rokke.

Vir enige navrae kontak haar gerus direk by 0828942815 of stuur 'n e-pos na carikeneldesigns@gmail.com
Kliek HIER vir meer ongelooflike skeppings deur Cariké Nel Designs

VOLGENDE VERTONINGS

Net soos die kleure van die reënboog skyn die talente van kinders soos 'n wonderlike belofte en plan oor hulle lewens! Buster & Bella ontdek so dat elke kind op 'n unieke manier "slim" is. Hulle leer ook dat God ons nooit los nie en as ons Sy hand vat, dit 'n onbreekbare band vorm. Die vertoning is ongeveer 50 minute lank, met 'n foto sessie saam Buster & Bella na die tyd.

Kry jou gunsteling Buster & Bella produkte by alle vertonings of in ons aanlynwinkel.


KLIEK HIERONDER VIR MEER DATUMS OP ONS BUSTERTUIG KALENDER

BusterTuig Kalender
Top